Ietsie mooi, ietsie rooi...
Wat is Valentynsdag sonder die rooi en wit? Hierdie tuisgemaakte malvalekker is nie net spesiaal nie, maar ook baie mooi in rooi (en wit) en vrek lekker om julle te bederf vir ‘n Valentynsdag! Gebruik sommer as tafelversiering!
Regte egte malvalekker met rooi bessies en ander versierings:
(resep gebasseer op dié van my gunsteling kospersoon, Donna Hay):
Bestanddele:
125ml warm water
30ml gelatienpoeier
330g strooisuiker
230g vloeibare glukose
125ml water (ekstra)
5ml vanieljepoeier of sade van 1 vanielje peul
250ml geroosterde neute van keuse
240g versiersuiker
35g mielieblom
Rooi bessies, eetbare blomme, granaatpitte en ander rooi items om te versier.
Metode:
Giet die warm water in die mengbak van ‘n elektriese menger en strooi die gelatien oor. Roer om te meng, en laat eenkant staan.
Plaas die strooisuiker, glukose en water in ‘n pot oor lae hitte, laat die suiker smelt, verhoog temperatuur en verhit tot 115℃ (omtrent 5-7 minute).
Terwyl menger op hoog meng, giet die warm stroop met ‘n dun straal in die gelatien mengsel. Voeg die vanielje en neute by en klits 5-7 minute totdat dik en donserig is.
Werk vinning en skep in voorbereide bakplaat. Maak gelyk deur bakpapier op te sit en kleiner bakplaat bo-op.
Laat in yskas stol vir 1-2 ure
Meng die versiersuiker en mielieblom.
Wanneer die malvalekker gereed is, bestrooi ‘n oppervlak liggies met versiersuikermengsel, keer uit en bestrooi met versiersuiker mengsel. Versier met rooi bessies, eetbare blomme en ander rooi idees!
Sny met mes (wat ook bestrooi word) in blokkies wanneer bedien.
Nota: Sit nou nog ‘n bakkie gesmelte sjokolade by om dit in te doop en die aand is gemaak!














