Ivor Price: Die man agter die TV skerm wat danksy sy positiewe ingesteldheid sukses behaal het.
Daardie kenmerkende glimlag wat jou landswyd saans om 19:00 groet as jy inskakel vir die Nuus om 7 wag my in by die Plataankafee.
Ivor Price is ʼn gunsteling in meeste Afrikaanse huisgesinne want buiten sy werk as nuusleser, is hy ook ʼn radio joernalis vir RSG.
En radio en televisie lieg nie: Daardie stem van hom betower in lewende lywe ook.
Tussendeur die roet wat waai ten tye van die Jonkershoek brand, deel hy sy lewenswyshede.
Hy vertel van sy eerste artikel wat op 14 jarige ouderdom in Die Burger se jeug bylaag, JongBurger (vandag Jip), verskyn het: “Op daai ouderdom, tipies, het my storie oor tienerseks gegaan. Ek het my vrek geskrik toe ek sien dis gepubliseer die Maandagoggend.” Ivor beskryf hierdie as die oomblik toe “daai gogga” gebyt het, en hy praat natuurlik van die joernalistieke gogga.
As Ivor nie destyds tot die skoolkoerant redaksie verkies was nie sou hy moontlik ʼn politieke loopbaan gevolg het oorsee. “Dit het alles begin met ‘n skoolkoerant kursus wat deur Die Burger aangebied is. En daai dag het my kop geswaai.”
Volgens Ivor is hy nou vir die eerste keer in jare op die enigste plek waar hy wil wees nadat hy vir byna 11 jaar van sy loopbaan ʼn verskeidenheid van goed probeer het. Hy wil eers radio en televisie bemeester voor hy weer aanbeweeg. “Ek dink in hierdie bedryf maak te veel mense die fout om te spring van die een ding na die ander ding.”
Dit is die eerste Woordfees waar Ivor die aanbieder van RSG se Praat Saam is en hy vertel met trots hoe daar daagliks honderde mense is wat na hom kom luister. “Mens besef nie die impak wat radio het nie, by elke program en vertoning is letterlik mense wat toustaan vir ʼn halfuur lank om ʼn praatjie te maak. Dis fassinerend.”
Hy vertel van ʼn paartjie uit WesBank wat petrolgeld geleen het om net vir hom te kom hallo sê en mens kan in sy oë sien hoe spesiaal die interaksie met die luisteraars vir hom is.
Ivor kry ʼn glimlag op sy gesig as hy vertel oor die eerste aand wat hy die Nuus om 7 op SABC 2 uitgesaai het en vertel dat sy senuwees nou nog knaag voor elke uitsending. Voor die uitsending het Riaan Cruywagen, by wie Ivor oor gevat het, vir hom ʼn boodskap gestuur om te sê dat hy dink Ivor gaan goed doen.
“Daar is ʼn vreemde kalmte wat jou beetpak tot 7de Laan klaarmaak. Maar as jy eers deur daai eerste berig is dan doen jy dit. ”
Ivor se raad aan jong joernaliste is om jouself eers as ʼn koerant joernalis te bekwaam. “Televisie en radio is baie uitdagend, maar jy moet leer om woord vas te wees en dit gaan jy net leer by koerante.”
Hy het al baie studente aangestel waar hy gewerk het en hy meen dat die wat oorleef, die is wat ʼn grondige kennis van skryfwerk het. – Suzaan Potgieter