Ontbyt in die bed vir Pappa - selfgemaak deur Pappa se kidinkie
Ek is baie lief vir my kombuis, en moes seker maar geweet het dat ek hierdie liefde (en dus ook my kombuisterrein) gaan moet deel - soos baie dinge wanneer mens kinders het en joune nie meer jou eie is nie! Hierdie is wel 'n baie lekker fase om met die juniors te kan deel: die ontdekking van resepte en self maak! (Die skade van opruim na die gemors is nog nie iets wat hulle vreeslik entoesiasties aanpak nie... Hier deel niemand enige liefde nie...)
My ouers het my die guns bewys (op daardie stadium natuurlik die grootste straf!) om my 'n weeklikss kosbeurt te gee terwyl ek op skool was. Ek kon enigiets maak, maar Woensdag-aande was aandete my verantwoordelikheid. Hierdie geleentheid het my geleer om te beplan, waardering vir die tyd en moeite te hê wat in die bord kos gaan wat ek ander maaltye gekry het, en die belangrikste van als, 'n liefde vir en selfvertroue in die kombuis. Ek wil graag hierdie guns ook aan my kinders (ja beide, seun en dogter) bewys!
Met hul kombuisentoesiasme het ek die geleentheid begin om die vlammetjie te kaat aanhou brand en hul eie resepteboek aangeskaf (want deel van die entoesiasme is mos maar om dit self te doen). Die oulikste resepteboek, met die oulikste naam: 'Nie vir ma's nie' saamgestel deur Karin Behm-Joubert en Daleen van der Linde. Hieruit eksperimenteer hulle op hul eie en verbaas my elke keer met die eindresultaat. Vir Vadersdag maak hulle vir Pappa 'Eier-in-die-gaatjie' (en ek was gelukkig genoeg om die toetslopie vandag te eet!)
Botter of margarien (om te braai)
• Druk met 'n koekiedrukker 'n vormpie uit die middel van elke sny brood - enige vorm waarvan jy hou. Hou die stukkies wat jy uitgedruk het eenkant.
• Smelt 'n klontjie botter of margarien in 'n braaipan en braai die sny brood aan die een kant tot ligbruin. Draai die brood om en smelt nog 'n bietjie botter of margarien in die pan. Breek 'n eier versigtig in die gaatjie. Sit die pan se deksel op en laat die eier gaar word. Braai al die brood en eiers so.
• Braai die gesnyde vormpies ook in botter of margarien. Smeer die vormpies met kaassmeer of maaskaas en sit dit bo-op die eiers. Jy kan ook gerasperde kaas oor die broodjies strooi, of sit dit voor met 'n bietjie tamatiesmoor. Ruim die kombuis op.
(Voorberei en opgedien deur Mira self)