Strandlangs
Nege-uur in die aand is die meeste strande verlate, veral buite seisoen, maar strande tussen dorpe is meer wildernis as strand. Hy kies ‘n holte tussen twee duine om die ergste wind in die nag af te keer en laat val die rugsak.
Die sterre is helder, maar nog nie winterhelder nie. Boonop sal die maan nou-nou opkom en die sterre nog meer verdof. Daar is geen dorp hiernaby nie en geen lig in enige van die bosse nie, net die donkerblou, verlate strand, die wit van die laagwaterbranders en fosfor in die spoel. Met sy leer stapstewels en dik wolsokkies uit, besluit hy om die res ook te laat vaar om in die see te gaan was voordat die koue nagwind opkom. Die oop wond aan sy regter bo-been moet nou dringend skoongemaak word, die area is seer en hy is versigtig dat dit reeds ontsteek het. Die seewater sal help, sy oupa’s en pa het gesweer daarby.
Natuurlik is die water bliksemskoud, maar hy is dankbaar vir die water; daar was geen teken van ‘n stroompie die vorige twee dae oor die berge nie. Nou kan hy die ergste sweet afkry. Die seewater spoel in die wond en laat hom op sy tande kners. Die pyn en koue vermeng egter gou. In die kniediep water dwaal sy gedagtes na ‘n ge-skinnydippery een warm Desembervakansie. Die gedagte, die tyd, gryp hom aan en hy verloor waar hy is en staar uitdrukkingloos na die donkerwater; die koue, hongerte en seer vergete, die soutwater spoel heen-en-weer oor en in die rou wond, maar hy is nie nou meer daar om dit te voel nie. Haar gesig is voor hom, daar, in die donkerwater. Sy kyk op, sien hom en glimlag. Hy staar na die water, naak en rou, soos die gevoel in hom oor haar glimlaggende gesig. Sy is so pragtig soos altyd. Sy gryp hom aan en trek hom die dieptes van haar see-blou oë in. Daar is geen ander plek waar hy wil wees as in haar oë nie. As sý hom raaksien, maak niks anders in die wêreld ooit weer saak nie.
‘n Klein brander vang hom op die heup en slaan hom amper van balans. Dit bring hom terug en sy meermin met haar wilgerlatlyfie duik weg. Hy was sy hare en baard so met die een hand, hou die koekie seep in die ander. Afgespoel stap hy oor die blou strand terug na die duin.
Dankbaar vir die oorvloed droë dryfhout vir die nag, hou hy die oervlamme dop wat hom droog en ontdooi. Die vorige drie weke deur die Karoo en oor die berge was hard, maar voel nou lank gelede hier langs die kus. Hy is ‘n see-mens en was nog altyd, soos sy. En soos sy pa, wil hy ook sy as op die strand of in die see gestrooi hê. Terwyl die koffie oor die kole prut, krap hy vir sy notaboek en potlood in die rugsak, lig dit saam met die whiskey-flessie uit. Die notaboek is halfpad vol, die flessie is halfpad leeg. Hy skuif nader aan die vuur vir beter lig. ‘n Ou binne-band rek hou die vele los items in die notaboek bymekaar, elke item vertel ‘n storie, ‘n tyd. ‘n Foto gly tussen die blaaie uit. Dis sy.
“Time’s up, Dear,” is die eerste woorde wat deur sy gedagtes speel, asof sy dit hier langs hom sê, asof hy dit gehoor het. “Wat sou jy vir my sê met net drie minute oor waarna jy my nooit weer sal sien nie?” Haar stem is die enigste een wat hy deesdae nog hoor. Hy onthou die vraag, en die somersaand. “Time’s up, Dear,” hoor hy weer. Het hy die drie minute reg gebruik? Hoekom het sy dit gevra, wonder hy weer; wou sy hom dit net één keer hoor sê? Na al die jare, voel hy steeds skuldig oor haar, oor hoe wreed hy met haar was en laat sak sy kop in skaamte asof daar ‘n hemel was wat eens in hom belanggestel het. “I feel sick when I remember how I opened up to you,” het hy onlangs gelees en gedink dat dit haar gevoel opgesom het.
Hy sug en kyk na die vuur. Sedert hy sy rug op die samelewing gedraai het, is alle gesprekke met mense beperk. Die aanskaf van die nodige voorraad vir sy volgende reistog, toerusting, nuwe stewels of so, maar haar stem bly hom egter by: hoe intiem sy gepraat het toe sy nét met hom gepraat het. Hy weet dat ouderdom, siekte, dood of vergeetagtigheid die klank van haar stem eendag gaan kom haal en terugneem; sy bors trek toe as hy net daaraan dink. Daar is sekere herinneringe waarsonder hy nie meer wil bestaan nie, en sy is een. Dat sy nog is, maak dat hy nog wil wees.
As hy haar dan nie kon hê as sy eie nie (en nee, hy het nie 'n oomblik saam met haar verdien nie), as ‘n lewe saam dan nie vir hulle beskore was nie, los hom dan asseblief net alleen met dit wat hy van haar kan onthou. Hulle het by die reëls van die lewe gehou en niemand anders behalwe mekaar seergemaak nie; is ‘n paar memories van mekaar, ‘n paar flitse oor ‘n paar weke dan te veel gevra?
Wanneer hy voetslaan, deur die semi-woestyn van Botswana, deur die groen van die Wildekus, oor die klippe van die Weskus, oor die berge van die Tsitsikamma, deur die geel van die Vrystaat, of deur die verstikkende hitte van die Laeveld, praat hy met haar oor die blomme aan sy voete, oor die soort grasse of weiding, die soorte bome en of hulle goeie hout gee vir meubels of vuurmaak, oor die botteltjies en ander potskerwe wat oorgebly het van die Tweede Vryheidsoorlog, oor uitsigte van die see waar hulle kan stop en saam na ‘n besondere sonsondergang kan kyk, soos by Kranshoek. Hulle praat oor plekke waar hulle as kinders vakansie gehou het, of wynplase in die area, of oor van die min gedeelde ervaringe. Soms dwaal hulle gedagtes na eksotiese plekke waar een van hulle al was en deel dit met die ander een. Of soms praat hulle oor gedeelde denkbeeldige memories, plekke waarheen hulle in gees saam was, die emosie en beelde amper helderder as die ongedeelde werklikheid.
Hy hou die foto tussen sy vingers. Dit is op ‘n strand geneem, een wat hy jare later buite seisoen gaan soek het. Die foto was die gelukkigste wat hy haar nog ooit gesien het, en die gelukkigste wat sy haarself in ‘n lang tyd gesien het. Stralend sit sy op die foto en sy hart raak van voor af sag. Sy kon ‘n model in enige tydskrif wees, maar sy was nie: vir daardie oomblik was sy iets anders, durf hy sê iets net vir hom? Hy wil so dink, maar nee, sy was iets vir haar, nie vir hom nie. Dit was belangrik, onthou hy. "Feels like I'm twenty again!"
Met alles verlore behalwe die een foto, het hy maande later weer alles begin neerskryf wat hy van haar kon onthou. Alles gaan soek om dit te herwin. Elke oomblik het hy oorgespeel en neergeskryf, en méér probeer onthou, totdat sy so naby was dat hy amper aan haar kon raak.
‘n Traan val op die foto en hy vee dit vinnig af. Hy kyk op na die branders en voel die nagwind sny oor sy gebrande gesig. “Belowe my dat jy regtig alles in jou vermoë doen om te probeer,” hoor hy haar weer vra terwyl sy wegstap, nie net fisies nie, maar wegstap in gees ook. Daarna, dag-na-dag, was daar elke dag al minder in haar oor vir hom; hy wat haar lewe amper verwoes het.
En nou is hy hier. En sy is daarbuite, êrens in die wêreld, vir hom verlore. Dele van hom het soos die gekerfde vel geword rondom ‘n snywond. Hy het teruggetrek uit die lewe en hom gekeer tot die wildernis en die woorde wat hy kon skep om haar lewendig te hou, en daar begin leef. Tussen die woorde kon sy met ‘n weergawe van haarself saamleef; dit was wat hy nodig gehad het. Om nie die kwaad, die moeilikheid, die boosheid in haar lewe te wees nie.
Omdat sy haarself nie sommer vergewe nie, het hy gehoop om eendag ‘n weergawe van haar raak te loop, in ‘n gallery, of buite ‘n koffiewinkel, wie haarself aanvaar het vir wie sy is, besluite en al. Vir hom was dit nie foute, of reg en verkeerd nie; sy het gevoel, sy was ‘n vrou van oortuiging én passie, vlees en bloed. Hy het in sy hart bly glo dat sy wel sou opdaag. Sy sou eendag ‘n plantjie op haar knieë plant in haar groen, Kaapse tuin. Sy sou opkyk en die son sien, haar tuinhoed regskuif en die wind oor haar pragtige, fyn gesig voel, en skielik haarself vergewe, alles laat gaan saam met die wind, Gordonsbaai se kant toe. ‘n Gewig sou van haar skouers afrol en ‘n traan van geluk sou in die vrugbare, donker grond val. Miskien sou hy net op daardie oomblik op sy fiets voor haar tuinhekkie stop, sy pet afhaal en in sy hand vou, en sê, “Hey ...”
Hy gooi nog ‘n stomp op die vuur en keer terug na sy notaboek. Op die bladsye het hy ‘n veronderstelde, verbeelde lewe saam geskep, kon hy alles wat in sy hart was, vir haar vertel, kon hy haar stem hoor terugpraat, kon hulle saam ‘n motor laai en die langpad vat, nuwe horisonne saam verken, musiek luister, kon hy haar by konserte op sy nek tel, al sy laaste sonsondergange met haar in sy arms deel, laat smiddae haar op sy skoot neertrek om haar vrese te besweer en homself in haar oë verdrink. Hy wou na die asem onder haar rib luister, sy oor op haar maag lê, haar hand op sy kop voel, oorgee aan haar.
Die bladsye het nie geoordeel nie.
So met sy oë in die vuur, onthou hy dat die Boesmans van die Kalahari glo dat almal aan mekaar verbind is met ‘n onsigbare koord, van naeltjie tot naeltjie. Hy weet nie of dit waar was nie, maar hy het gereeld aan haar gedink en gewonder of sy dit kon voel. Soms besig, moes hy stop; dit het dan gevoel asof sy dalk aan hom dink. Een van sy vriende, het dieselfde ervaring gehad: indien ‘n pasiënt oor hom sou droom, het hy in die nag wakker geword en die pasiënt het dit die volgende dag so beaam.
Elke oggend was sy steeds die eerste gedagte, en ook saans sy laaste.
Vanaand, onwillekeurig begin hy wonder oor waar sy haarself nou mag bevind, in watter deel van watter land, in watter arms of geselskap, hoe oud haar kinders sou wees, of sy werk, en natuurlik die belangrikste, of sy gelukkig is. Hy hoop tog so. Hy het probeer voel soos die Boesmans en hard gekonsentreer.
Die wind het sand oor die duin gegooi en dit het in die vuur gewaai. Die temperatuur het gedaal en hy het besef die wond krap teen sy broek. Hy het sy oë toegemaak en haar voor hom gesien: hy het haar hoor lag. Watter aand van die week was dit? Hy kyk op sy horlosie, dis Saterdag. Miskien kuier sy saam met vriende of familie, dalk ‘n vertoning in ‘n teater, ‘n film? Hy hou aan haar lag waarvoor hy so lief is, vas, maar sy lag nie meer nie. Daar is ‘n warm gevoel, een van huislikheid asof sy binnenshuis is, in ‘n gemaklike plek, dalk veilig in ‘n paar sterk arms. Hy keer die gevoel wat in hom opstoot, weg en fokus weer. “Liewe ouers!” hoor hy duidelik. Sy gesels, hulle gesels, dan raak sy stil. Sy rus haar kop en haar gedagtes raak stil, dwaal af. Plig roep en sy staan skielik op. Sy oë volg haar. Sy is nog steeds so goedversorg, stylvol en skraal. Sy stap deur ‘n huis, die beligting is sag en die huis luuks. Sy dra ‘n pienk trui, sagte serp en ‘n stywe blou jean. Bruin leer skoene vir die herfsweer. Daar is kamers en van die deure van die kamers staan effe oop. Hierdie deel van die huis is stil en die stemme is ver weg.
By die eerste vertrek, ‘n slaapkamer, is daar ‘n jong dame met oorfone by ‘n lessenaar en sy teken, nee, skets. Dit lyk soos ‘n taak, dalk grafiese ontwerp of kuns? Daar is skilderye van skoenlappers teen die mure, ook van lieweheersbesies en van ‘n sonsondergang met ‘n doringboom. Almal is keurig geraam volgens die skakering van die res van die ruim kamer. Sy stap nader, soen haar op die kop en ‘n arm vleg om haar middel. Haar dogter ongetwyfeld.
Terug in die gang, trek sy weer die deur effe toe.
Geluide ontsnap van die volgende vertrek waar die deur toe is. Sy klop en gaan in. Twee jong seuns is vasgenael voor ‘n televisieskerm en jaag teen mekaar resies. Een kyk op en glimlag, haar seun. Sy glimlag meer as wat sy bedoel het en sê, “Nie te hard nie julle” en maak die deur agter haar toe. Sy aarsel ‘n oomblik en dink hoe mooi hy eendag gaan wees. In die laaste slaapkamer, naaste aan haar eie, staan die deur halfpad oop. ‘n Naglig brand sag en ‘n klein dogtertjie lê en slaap, ‘n laatlam, dink hy onwillekeurig, en ook dat dit die enigste kind is wie se naam hy nie ken nie. Sy streel die kind se kop en trek haar toe. Sy staan dan so bietjie, kyk na haar kind en sit ‘n hand op haar eie maag.
Terug in die gang draai sy nie links na die gaste en die stemme toe nie, maar regs.
Die gang loop uit op die balkon. Buite maak sy die dubbel glasdeure agter haar toe en die koue nagwind is skielik koel op haar gesig, maar verfrissend. Sy vou haar arms en loop tot aan die einde van die balkon, staar uit oor die donkerblou see, die wit branders en die verlate strand. Die wind sny en sy lig haar serp oor haar mond en ore, “Nie nou siekword nie,” dink sy.
Sy staan doodstil en voel. Sy luister en hoor die geknetter van ‘n vuur êrens. Iets krap teen haar bo-been en haar oë raak waterig van die wind. Sy ruik whiskey en ‘n aand in Johannesburg, lank gelede, flits deur haar gedagtes. Sy staar uit oor die strand en verbeel haar sy sien die ligblou, naakte figuur van ‘n man kniediep in die branders staan. Hy was sy hare en baard met sy een hand. Dis ‘n ou man, maer, maar nog nie tengerig nie. Die figuur lyk bekend, maar sy kan hom nie plaas nie. Sy hou hom dop as hy effe mank uit die branders terugstap. Sy voel sy ken hom en laat sak die serp toe hy nader aan die duine kom. Haar oë dryf oor sy naakte lyf en haak vas by die wond aan sy regter bo-been, die bloed vloei vrylik daaruit. “Hy moet ophou om daaraan te raak,” dink sy, “anders gaan dit nooit gesond word nie.”
____________________________________________________________
In die foto het hy haar oë gesoek, soos vanaand. Altyd daardie oë, altyd. Hy staar na die foto en wens dat hy meer as net dit van haar oorgehad het. Daar was ander oomblikke van moontlike geluk, soos toe hulle mekaar die eerste keer in ‘n nuwe lig gesien het, of haar lag toe hy sê hy is nie spyt oor die nuwe situasie nie, dat hy net spyt is dat hy nie daarvoor verantwoordelik was nie. Sy het so skaam-lekker gelag, haar kop teruggegooi en geskud, weggetree van hom af oor die ondeunde opmerking, bang dat hy nog iets só stout sou kwytraak, al wou sy dalk hê hy moes. Hy het haar reaksie gekoester. Sy hoef nie só te reageer nie, het hy gedink. Hulle was niks van mekaar nie, tog het sy nie so opgetree nie. Die onmoontlike het altyd oor alles geskryf gestaan, en hy was so dankbaar dat sy hom dié onbehoorlike skerts toegelaat het. Daarna het alles al hoe meer onmoontlik, al hoe ernstiger geword en, uiteindelik, het hy haar verloor.
Aanraking, wens hy, hy wens só hy kon net een keer sy hand in hare lê. Net een keer haar arms voel. Net een keer haar laat verstaan dat sy alles en vir altyd vir hom sou wees, al sou sy dit nooit weer hoor nie. Maar dit sou nooit gebeur nie.
In die werklikheid, het sy haarself gehaat, die vrou wie op hom verlief geraak het. Hy kon wel nie vra dat sy steeds so voel nie, nee, dit sou te veel gevra wees; hy wou net nie hê dat sy haarself so oor hom moet verwyt nie.
Hy het nie nodig dat iemand hom nóg meer oordeel as wat hyself doen nie. Sy straf het hy reeds weg. Sy lot was geseël.
Daar was geen bevestiging hiervoor nie en die enigste manier om te weet of dit so was, sou wees om haar te vra, iets wat onmoontlik was.
Was mense aan mekaar verbind, het hy gewonder.
Dit was ‘n aangenaam om te dink mense is aan mekaar verbind, ten minste, ‘n soort troos dat iets hom aan haar vasmaak en dat iets dalk, net dalk haar aan hom heg. Was dit ‘n voorvereiste dat almal aan mekaar moes dink? Hy weet nie. Maar sy sou baie hard op haarself wees indien enige deel van haar buite die lyne wou inkleur; daarvan was hy seker. Die waarskynlikheid was skraal.










